Ons dink ons weet wat die Bybel sê.
Ons dink ons weet wat die Bybel sê.
Philip Liebenberg
Die Kapel
14 September 2008
Die dekor se prentjie in ons koppe is verkeerd
nOns lees die woorde van die Bybel met groot respek. Ons neem dit ernstig op en probeer kyk of ons so naby as moontlik aan die voorskrifte kan leef. Ons sien dit as ideale. God se wil vir ons. Dis iets waaraan mens nie durf peuter nie. Hierdie respek wat ons vir al die versies in die Bybel het. Dit kom al die eeue met ons saam. Dis ons godsdiens. Ons Christelike bestaan. Maar ek vra vandag `n ingrypende vraag: Is ons reg? Werk dit so? Dan antwoord ek met oortuiging self die vraag: Dit kan nie so werk nie want ons prentjie van die omstandighede in die Bybelse tye is verkeerd. Ons trek vir hulle sandale aan en gooi lakens oor hulle koppe en dan dink ons verder is hulle dieselfde as ons. Dis waar ons ons groot fout maak wanneer ons die woorde lees wat deur daardie mense in die Bybel opgeteken is.
Een prentjie as voorbeeld:
nIsrael het hulleself van die ander nasies onderskei en afgeskei. Wat die redes is is nie nou belangrik vir ons gesprek nie. Wat wel belangrik is is dat ons die opdragte dat hulle nie met die heidene moes meng nie op ons eie situasie in Suid Afrika toegepas het. Ons het gedink ons omstandighede lyk presies soos hulle s’n. Dat ons ook die Here se volk is wat in donker Afrika die lig moes bring en nie vermeng nie. Daardie eenders maak van twee verskillende omstandighede is tipies van die mens – ons hoor ander mense se stories en neem sommer aan dat ons weet waarvan hulle praat én dat ons presiés dieselfde in ons lewe deurgaan. Ons maak die verskille en die dimensies plat en maak goed eenders. So het die Afrikaner uit die Bybeltekste die sonde van apartheid en vertrapping en geweld teen die swart volke gepleeg. En die heeltyd het ons geglo dat ons die Here se Woord navolg. Die voorbeeld van Israel. God se volk. Soos ons ook God se volk is. Seriaas? Ja regtig! Ons was stapelgek, vol sonde en ver van die wil van enige God af wat die moeite werd is om te dien. Die punt is: die Afrikaner is nié Ou Israel nie en die wette oor apartheid het vir hulle gegeld en niks met ons te doen gehad nie. Daardie kliniese navolg van tekste in die Bybel, sonder om die prentjie oor die tyd waarin dit geskryf is reg te kry in ons koppe en van ons tyd en omstandigehede te skei, het ons sonde laat doen. Jy kry nie gesonde reëls vir jou lewe uit die op-die-oog-af-lees van die Bybel nie. Die wreedhede in die Bybel het vir baie polisiemanne in Suid Afrika groot moeilikheid op die hals gehaal. Dink maar aan Vlakplaas. Of is dit nou Slagplaas?
`n Tweede prentjie
nDie skeppingsverhaal is vir jare gelees asof dit die eerste aardrykskundeboek op aarde was. En as geoloë vandag op RSG met Freek Robinson praat oor miljoene jare gelede se beskawings dan bel die Christene in en raas hard oor hoe die duiwel nou wil hê ons moet die Bybel weggooi en na wetenskaplikes luister. Die Bybel sê die aarde is sesduisend jaar oud en daarom is dit waar. Niemand dink met gesonde verstand oor die mense wat daardie verhaal geskryf het nie. Hulle kennis. Hulle siening van die mens en die wêreld. Hulle vertellings is in elk geval jare later eers neergeskryf, glad nie woord vir woord nie. Die feit dat hulle net van straight mans en vrouens as geskapenes praat beteken nie dis waar nie. As hulle net van slange praat en oulike apies beteken dit ook nie dat daar nie jare voor hulle Dinousaurusse was nie. As hulle dink die eerste mense het daar in hulle geweste gebly en hulle name was Adam en Eva, beteken dit nie dat Afrika nie die wiegie van die mensdom is nie. Hulle het `n mooi storie geskryf wat God vereer het en op eenvoudige wyse vertel het van Sy skepping. `n Mooi storie, maar `n dom een. Jy kan nie eers daardie storie in `n taak vir Aardrykskunde gebruik as jy in standerd twee is nie. Jy sal nul kry. Of vier persent. Of so iets. Ons weet vandag dat die Here se skepping baie ander soorte mense het as net straight mans en vrouens. En ons weet ons moet maar ophou om te dink almal in die lewe kan trou en kinders hê. Party kan nie en ons moet hulle ook help om mooi en slim en opbouend te leef. Op `n manier wat hulle nie seermaak en skade aandoen nie. Ons kan nie vandag die ontmandes en die dubbelslagtiges uit die stad jaag om in die koppies rondom Melville te dwaal nie. Hulle sal kroep kry en doodgaan en dis lelik om mense so te laat doodgaan terwyl jy lekker uiteet by De La Crème! Lees `n paar boeke oor die wetenskap, die aarde en die mens en trek reg daardie goddelike prentjie wat jy van Genesis 1 het waar jy `n halo om ‘n kaal Adam en Eva se koppe teken.
Nog een. Die laaste een.
nMammie moet mos vir pappie luister anders is sy nie Christelik nie. Want die Bybel sê so. Seriaas? Kom ek vertel jou hoekom jy nie daardie tekste in die Bybel sommer net so kan lees en toepas nie. In daardie dae was daar glad nie sulke huwelike soos wat ons ken nie. Hulle het nie in standerd sewe verlief geraak, gekys en romanties by die kaggelvuur gekoester nie. Hulle huwelike was gereël, die man het gaan oorlog maak en kerk gehou terwyl sy vrou slegte lensie pannekoeke gebak het en buite die kerk moes sit en shurrup terwyl die mans oor die Here praat. Intieme liefdesverhoudings se voet. Barbaars. Die bokke het saam met hulle in die huis geslaap. So erg was hulle. As jy net bietjie stry dan slaat iemand sommer `n tentpen deur jou kop in die grond in en as jy wakker word kan jy nie opstaan nie want jy is vasgepén! Ons lewens lyk nie soos hulle s’n nie. Ons vroue en mans hou saam kerk. Hoor saam by die Heilige Gees (alhoewel ek twyfel as ek sien hoe gek ons die Bybel lees!). Ons vrouens is soms slimmer as hulle mans. Hulle het soms beter poste en werk beter met geld. Nou wil jy my vertel die man moet altyd die hoof wees. Die leier. Die geestelike pilaar en profeet. Die Griekse mammas regeer lekker in hulle huise. Hulle klap sommer hulle seuns vriendelik terug op die regte pad. Matriarge. Maar weet jy goed werk daardie “onBybelse”kultuur? Die Grieke se familiebande is baie sterker as die Afrikaners s’n. Ek sien niks verkeerd met `n matriargale huishouding as dit goed werk nie. Paulus was `n Joodse pastoor van sy tyd en in sy kultuur. Hy was deel van die nasie wat die skeppingsverhaal geskryf het. Die verhaal wat sê die man sal nou oor sy vrou heers. En dit was glad nie eers ‘n christelike soort heers daardie nie. Daardie was deel van die sondeval se gevolge. Nou maak hulle dit heilig na die bekering deur te sê die man moet nice wees as hy heers. Oukei, as dit vir sy vrou werk is dit goed. Maar dit geld glad nie alle mense nie.Natuurlik sal Paulus wanneer hy briewe aan gemeentes skryf die reëls van sy tyd en kultuur voorhou. Have a heart: die man het dan tot slawe na hulle base toe teruggestuur! Slawerny is uit die hel, maar dis in die Bybel! Sien jy wat ek bedoel? Jy kan nie alles in die Bybel kop toe vat en navolg nie. Dit was `n ander tyd daardie. Ons en hulle is glad nie eenders nie. Ons moet nuwe reëls maak. Hard bid, baie dink en nuwe wyshede vir ons tyd neerpen. Ons mans kan nie die laaste sê kry nie. Hulle besit nie hulle vrouens en kinders en slawe soos in daardie dae nie. Abraham jaag dan sommer sy slavin en bywyf die woestyn in. Mét haar en sy kind. Hoerkind. Deksels. Dis nie gasvry of gaaf nie. Dis baie óngaaf van hom. Hou op om so iemand jou hero in lifestyle issues te maak. Hy was dalk `n geloofsheld, maar ek sal hom nie eers in Rapport se tydskrif laat feature in `n artikel oor famous love stories nie.
Die Bybel gaan oor Jesus
nOns sal moet begin om te besef dat die Bybel oor Jesus gaan. Jesus het in daardie tyd en kultuur aarde toe gekom, maar dit beteken nie dat Hy vandag al dieselfde goed sou doen wat Hy toe gedoen het nie. Wat nié anders sou wees nie is die wet van liefde. En die leiding van die Heilige Gees. Dis Christenskap. Nie dom Bybellees nie.
nAmen.







