Mr Married and Looking for Daytime Fun – Philip Liebenberg
Mr Daytime Fun.
Sesuur Sondagoggend. My laptop was heelnag aanlyn. Die eerste brief in my Gaydar-inbox laat my vergeet dat ek eintlik oppad toilet toe was. My kop is skielik voller as my blaas. Ek begin oorhaastig tik:
“Dis beter om waarlik gay te wees as kammakastig straight!
So, “Mr Married And Looking For Daytime Fun”, ek het jou brief gelees. Die een wat jy in jou desperate na-nag lus, waarskynlik met ‘n ereksie in jou broek en ‘n leë maag vol angstige afwagting, aan my profiel geskryf het. Die profiel waarin ek myself adverteer as gay pastoor wat jou sal help om vrede met jou gaywees te maak. Dit maak toe dat jy my júís as ‘n groot “daytime fun”-uitdaging beskou. Dié dat jy toe ‘n private picture aanheg van jou gesig agter jou hand en jou watsenaam vir my om te sien. Jy sê jy sal nooit met ‘n openlike gay lewel kan vrede maak nie omdat dit sonde is, maar dat jy ook nie bereid is om jou etensuurspeletjies met manne op te offer nie. Nie eers terwille van jou huwelik nie. “A Man needs to get His rocks off every now and then”, sê jy. “Mr Married”, ek wil jou graag vra: gaan jy nou vir die res van jou lewe met jou gesig agter jou hand rondloop? In die donker gange van Adult World cruise? Wil jy regtig eerder ‘n dubbele lewe ly en elke aand wanneer jy met vroutjie lepel-lê, wéét dat jy ‘n skelm is? Dat jou gesig ‘n masker is. Dat dít die rede is waarom jy dit eerder agter jou hand wegsteek – die wete dat mens niemand in die oë kan kyk as jy dit nie met jou eie oë doen nie. Die oë van jou siel. Jou ware siel. Nie die skaam een nie. Jy is eintlik lankal nie meer net skaam oor jou gaywees nie, jy is nou ook skaam oor wat jy daarmee doen.
“Mr Married”, nêrens in die natuur kry mens ‘n perfekte sirkel nie. Dis net ‘n standaard in God se kop, terwyl Hy tóg genade met die werklikheid se skewe sirkels het! Jy sal nooit die straight man kan wees wat jy so graag vir die wêreld voorhou nie. Jy het één lewe. Jy kan ‘n baie beter keuse maak as wat jy met hierdie private picture doen. Jy kan beter doen as om snags jou gesiglose watsenaam vir moffies te wys en bedags jou agter-die-hand gesig vir die straights butch te trek.
Jy kan ‘n eerlike gay man wees. Wat jou hand kaarte vierkantig in die gesig staar en dit met eerlikheid speel. Ek het ontdek dat my gaywees, gemeng met ‘n goeie dosis eerlikheid, die resep vir vryheid is. Vir sterkte in my handdruk en trots in my oë. Dat dit my help om my hand voor my gesig weg te neem en met vrymoedigheid in vriendskap na straights uit te steek. Die mensdom hou van ons as ons eerlik is. Om jou gaywees met kammakastige straightwees te meng doem jou nie net tot donker kamers nie, dit gee jou ‘n lewe wat soos ‘n tydbom eendag in jou gesig gaan ontplof. Vra my, ek het dit self gedoen. Ek het myself en ander baie skade gedoen met my leuens en amper te laat ontdek dat dit altyd beter is om waarlik gay te wees as kammakastig straight! Ek hoop ek hoor weer van jou!”
Ek druk “send message”, en voel skielik my oorvol blaas. Terwyl ek staan en piepie kyk ek vir myself in die swartgeraamde, vollengte badkamerspiëel. Skielik weet ek: ek was te kras. Wanneer gaan ek onthou om te onthou hoe moeilik dit vir mý was om in die na-nag van alleenheid lus te wees? En bedags te bang om te erken wat ek is? Maklik om te praat noudat ek met ‘n oop gesig langs my partner lê en geen lus my ooit meer desperaat maak nie. My sotlik-pastorale briefie maak dat ek my eie agterent wil skop. Ek sien in die spiëel hoe mý gesig skaam agter my hand verdwyn terwyl ek twintig oor ses Sondagoggend ‘n opregte skietgebed vir “Mr Married And Looking For Daytime Fun” bid: “Here, sal Ú daai makker help om sy hand voor sy gesig weg te vat en liewer voor sy watsenaam op foto’s te hou? Totdat hy sy hele lyf oopgesig vir een spesiale ou kan wys. En maak assebliéf my tikvingers styf as ek my ooit weer voor ‘n laptop sit en verbeel dat ék God is! Amen.”
Sonder om hande te was loop ek haastig terug na my laptop toe en soek na sy profiel. “Mr Married And Looking For Daytime Fun”, vergewe my vir elke windgat woord wat ek netnou vir jou geskrywe het…”
© Kopiereg voorbehou Philip Liebenberg 2008







